Doelloos sonder kultuurwaardes

Kinders kort groter blootstelling aan kultuur om hulle te beskerm teen die obsessie met die leë wêreld wat vermaak bied, aldus een van Brittanje se beste jong violiste, Nicola Benedetti.

Die vyf-en-twintigjarige Nicola Benedetti, ‘n voormalige BBC Jong Musikus van die Jaar, het gesê vandag se kinders is sonder doel en verstaan nie die waarde van harde werk nie.

Benedetti van Ayrshire het saam met die BBC Proms opgetree en ‘n R24miljoen, opname kontrak gesluit toe sy 16 jaar oud was.

“Nou, meer as ooit, het ons ‘n eie kulturele identiteit vir ons jeug nodig,” sê sy. “As kinders nie sterk ouerleiding het nie en ‘n aktiwiteit het om die verveling na skool te vervang nie, sal hulle enigiets aanvaar wat aan hulle opgedis word. En dit is ‘n vermaaklikheidskultuur en ‘n obsessiewe gejaag na roem.”

“En roem waarvoor?” vra sy. “Niks van wat dit promofeer is van enige substansie of kwaliteit nie. Dit dra nie ‘n boodskap uit dat ons beter mense is omdat ons hard vir iets werk nie.”

Wat sy bereik het, skryf sy toe aan die waardes wat sy van haar vader, Gio, ‘n selfgemaakte miljoenêr geleer het. Op 10 het sy haar ouerhuis verlaat om aan die Yehudi Menuhin skool in Surrey te gaan studeer. Hoewel sy haar huis gemis het, het sy dit geniet om die viool te speel. Sy oefen vyf ure per dag en sê sy kon nooit verstaan dat ander kla as hulle hard moes werk nie.

“Ek kon nooit verstaan dat mense kan dink inspanning en harde werk is negatiewe dinge nie,” sê sy.

Afgesien van haar optredes is sy ook betrokke in Sistema Skotland, ‘n uitvloeisel van die Venezuelaanse program waar behoeftige kinders leer om klassieke instrumente te bespeel. (Venezuela het tans meer as 300 jeug simfonie-orkeste)

Sy was ook instrumenteel in die totstandkoming van die Big Noise-orkes in Raploch, ‘n gemeenskap in Stirlingshire wat hoë vlakke van werkloosheid en ontbering ondervind. Gustavo Dudamel, die vooraanstaande dirigent van Venezuala het die uitvoering van die grootste buitelug klassieke konsert ooit in Skotland gedirigeer.
Benedetti, wat glo dat hoe groter die “blootstelling” aan klassieke musiek is, soveel beter is dit vir die mens, sê sy was woedend oor die standaard van musiekopvoeding en is bevrees dat verdere besnoeings katastrofiese gevolge vir die toekoms van Britanje sal hê. Vroeër vanjaar is aangekondig dat kinders nie meer op instrumente gedurende musieklesse kan speel nie, aangesien meer kinders skryfklasse nodig het en die tyd en ruimte daarvoor gebruik word.