Ysland se President – ’n ware demokrasie

Ysland se spesiale vervolger insake die bankkrisis van 2008, het bevestig dat arrestasies gemaak is. Die Sentrale Bank van Ysland is een van die banke wat ondersoek word. Die hoof ondersoekbeampte, Olafur Thor Hauksson het gesê dat die huise van amptenare van ook die MP Bank en Straumur Bank deursoek word.
Vier persone is ‘n paar dae gelede gearresteer, o.a. die tesourier van die Landbanki, Jon Thorsteinn Oddleifsson. Volgens bronne verbonde aan Visir.is, is hierdie arrestasies deel van ‘n wyer ondersoek teen die banke en nie direk verbind met die nege persone wat reeds verlede week in Ysland en Engeland gearresteer is nie.

Die bankkrisis het ‘n ongekende openbare reaksie ontlok in die land van die wêreld se oudste demokrasie (sedert 930) wie se burgers verandering afgedwing deur te demonstreer met potte en panne. Aanhoudende druk van die burgery het nie net die regering tot ‘n val gebring nie, maar daar is ook begin met die opstel van ‘n nuwe konstitusie en om diegene wat daarvoor verantwoordelik is, voor die hof te bring.

Die stille rewolusie het sy begin in 2008 gehad toe die Yslandse regering besluit het om die drie grootste banke, wie se kliënte hoofsaaklik Britte en Noord- en Suid-Amerikaners was, te nasionaliseer. Dit het tot gevolg gehad dat die krona gedaal het en die aandele mark moes sluit. Ysland het bankrotskap in die gesig gestaar en om die land te red het die IMF $2,100 miljoen en die ander Nordiese lande met ‘n verdere 2,500 miljoen gehelp.

Steeds het die mense daagliks voor die parlement in Reykjavik gedemonstreer totdat die Eerste Minister, Geir H. Haarde en sy kabinet bedank het. Die volgende eis was ‘n vroeë verkiesing. Toe die nuwe regering egter, ten spyte van die verslegtende ekonomiese toestand aankondig dat hulle skuld aan Engeland en Nederland teen 3,500 miljoen Euro maandeliks vir die 15 jaar gaan terugbetaal teen ‘n rentekoers van 5.5% rente, is die mense weer met hulle potte en panne strate toe om ‘n referendum oor die aangeleentheid af te dwing.

In Maart 2010 het 93% van die bevolking geweier om die skuld onder sulke drakoniese voorwaardes te betaal. Nuwe terme deur die krediteure en ‘n tydperk van 37 jaar vir terugbetaling wat deur die parlement goedgekeur is, is deur die President, Ólafur Ragnar Grímsson geveto wat weer ‘n referendum uitgeroep het om doodseker te maak dat die Yslanders finale seggenskap het oor hulle lot.

Hierdie keer is besluit om ‘n nuwe grondwet te skryf waarin die bevolking beveilig word teen gewetenlose buitelandse bankiers. In die gees van soewereine demokrasie het die Yslanders hulle nie na politici en partye gewend nie, maar die gewone man op straat. Meer as 500 het hulle bereid verklaar. Al wat nodig was, was 30 handtekeninge wat die kandidaat ondersteun. Vyf-en-twintig, sonder enige politieke verbintenis, is gekies, w.o. prokureurs, studente, boere, vakunie-leiers en joernaliste.

Vir die eerste keer sal die 320 000 inwoners van hierdie land weer self oor hulle lot besluit terwyl politici en bankiers dit slegs van die kantlyn kan dophou.
Intussen het Ysland al sy skuld aan Engeland, Nederland en die IMF terugbetaal en staan sy ekonomiese groei op 4.5% vir die eerste kwartaal van dié jaar.
Kan die Boere-Afrikaners hieruit iets leer?