Volkstaatrugby

Op Saterdag die 9de Junie 2012, het die Volksdorp Kleinfontein oos van Pretoria, gasheer gespeel vir die herdenkingsfees van die slag van Donkerhoek wat ‘n 112 jaar gelede in die omgewing van Kleinfontein afgespeel het.

Soos wat van ‘n Volksfees van die aard verwag word, was daar verskeie Boerekulturele aktiwiteite aangebied, soos Boeresport, skyfskiet en ‘n perdevertoning.

‘n President Paul Kruger het per perdekar by die fees gearriveer en die verrigtinge geopen met skriflesing en gebed. Ook is die geliefde President se laaste brief aan sy volk voor gelees.

Lid van die Boere-Afrikanervolksraad, Henk van de Graaf, het die feesrede gelewer. Die boodskap was duidelik, net soos 112 jaar gelede, is die Boere-Afrikaner vandag ook gewikkel in ‘n stryd om oorlewing.

“Kerkpoeding”, pannekoek, vetkoek en verskeie ander eetgoed is te koop aangebied en het bygedra tot die feestelike atmosfeer.

Dit was die derde keer wat die Donkerhoek Verkenners hierdie fees aanbied en met die fees het hul ‘n nuwe item op die program geplaas – Rugby. Of soos hulle dit noem; volkstaatrugby.

Die gedagte van volkstaatrugby het by vanjaar se Majubafees ontstaan en reelings rondom die wedstryd het minder as drie maande gelede plaas gevind.

Die wedstryd het plaas gevind tussen die Kleinfontein Krygers en die Orania Rebelle.

Opgewondenheid oor die wedstryd was groot en nie eers die kouefront kon ondersteuners weg hou nie. Selfs al moes talle in hul motors sit om die wedstryd te kyk.

Die spelers was dit na die wedstryd eens dat dit ‘n harde wedstryd was, of soos die afrigter van Orania dit genoem het “harde Boererugby” en die talle blou kolle het daarvan getuig. Tog was daar geen ernstige beserings nie, alhoewel die agsteman van die Krygers die veld verlaat het vir ‘n skouerbesering.

Rasieleiers van Krygers het die skare aangemoedig, alhoewel daar nie veel aanmoediging nodig was vir die meelewende skare nie.

Die skare is beloon met ‘n aanskoulike wedstryd waarin daar sewe drieë gedruk is, vyf deur die Kleinfontein Krygers en twee deur Orania se Rebelle.

Na die wedstryd het die voorsitter van die Boere-Afrikanervolksraad, Mnr Andries Breytenbach die Volkstaatbeker aan die Krygers oorhandig wat met 34-12 gewen het.

In 2013 sal die Krygers na Orania toer om daar hul titel te gaan verdedig.