VN looi RSA oor wette

Den Haag. – Kritiek is deur verskeie lande in die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie op Suid-Afrika se Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting (muilbandwet) uitgespreek. Dit het gebeur op ’n vergadering in Genève waar die menseregtesituasie in Suid-Afrika bespreek is.
Andries Nel, adjunkminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, het die Suid-Afrikaanse regering se saak gestel. Marius Fransman, adjunkminister van buitelandse sake, was ook aanwesig.

Luidens ’n voorlopige verslag van die kommissie het Nel die Grondwet en die ANC-regering se menseregtebeleid geloof en statistieke genoem om te wys hoe sake verbeter het. Hy het glad nie na die muilbandwet verwys nie.

Sewe-en-sewentig lande se verteenwoordigers het kommentaar gelewer.

Tien lande – almal Westerse lande – het kritiek op die wetsontwerp gehad. Dit was die eerste keer dat die Suid-Afrikaanse regering op ’n internasionale po¬dium so sterk oor dié saak gekritiseer is.