Verkenners – Onderdrukking en volksmoord

Die Verkennersbeweging van SA het by monde van sy president, mnr. Ben Geldenhuys, in ’n mediaverklaring gesê die ANC se vlag is ’n simbool van onderdrukking vir die Boere-Afrikaners en sluit hulle aan by ander instansies wat die volk oproep tot maksimale paraatheid aangesien dit duidelik geword het dat die Jeugliga se uitsprake deur die Zuma regering ondersteun word omdat hulle geen woord gerep het oor die saak nie.

Die volledige verklaring word hier weergegee soos dit deur “Die Vryburger” ontvang is.

Die vlag van die ANC beheerde Suid-Afrika, is vir die Boere-Afrikaner ‘n simbool van onderdrukking en die volksmoord wat teen ons volk gepleeg word. Hierdie simbool van onderdrukking is onlangs in Delmas verbrand en vertrap as simbool van verset teen die onderdrukking en volksmoord. ‘n Mens kan dit selfs sien as ‘n soort bevryding vir die Boere-Afrikaner inwoners van Delmas.

‘n NG predikant van Delmas het egter op die 21ste Junie 2012 ‘n politieke daad gepleeg deur op simboliese wyse daardie selfde vlag van onderdrukking en moord in Delmas te hys. Daarmee het hy die Boere-Afrikaners in Delmas weer verkneg en vir die vyande, die moord en roof bendes, die boodskap gestuur – “ek onderwerp hierdie dorp se inwoners aan julle bloedlus, ek gee namens die dorp oor, maak met ons wat julle wil”

Die predikantjie herinner sterk aan Aaron, wat toe die Israeliete ongelukkig geraak het in die woestyn, vir hulle ‘n fopspeen in die vorm van ‘n gouekalf gemaak het om hulle kalm te kry. Die predikant besef nie dat nasiebou slegs ‘n fopspeen is wat die ANC en sy jeugliga gebruik om die Afrikaner ‘n valse gemoedsrus te gee terwyl die ANC se plan van totale oorname en etniese suiwering van Suid-Afrika uitgevoer word nie.

Die Verkennersbeweging van SA verwerp die simbool van onderdrukking en volksmoord met die minagting wat dit verdien en moedig volksgenote aan om dieselfde te doen.

Ben Geldenhuys,
President, Verkennersbeweging van Suid-Afrika
25 Julie 2012