Verkenners en VVK nie deel van dreigement

In ’n gesamentlike verklaring deur die President van die Verkennerbeweging en die voorsitter van die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) distansieer die twee organisasies hulle van die optrede en dreigemente van twee persone wat nie betrokke is by een van die genoemde strukture nie.

Dit volg op die berig wat in die links-liberale dagblad Beeld verskyn het waarin verwys word na ene Piet Rudolf en ene Marius Harding wat op Sondag, 10 Junie 2012 by die NG-predikant, Ds. Snyman van Delmas was; nadat gedreig was om sy kerkdiens te ontwrig weens Snyman se uitlatings oor die protes optog op 31 Mei in Delmas wat deur die Verkenners en die VVK gereël was.

In die verklaring word daarop gewys dat hierdie twee persone op geen wyse betrokke is by die Verkenners of die VVK nie, dat hulle nie eers geregistreer is by die VVK kieserslys nie en dat hulle ook nie deel was van die Delmas-optog nie.

Die verklaring lui voorts dat die organisasies hulle distansieer van enkelinge soos Rudolph en Harding se voormelde handelinge en ook die geloofsbeskouinge wat volgens die koerantberig deur Harding gehuldig word.

In ’n onderhoud met die President van die Verkennerbeweging het Die Vryburger verneem dat die Verkenners die optrede van die twee persone beskou as ’n poging om op die rug van welmenende Organisasies te ry omdat hulle klaarblyklik nie oor die vermoë beskik om iets soortgelyk te organiseer nie.

Die President het ook genoem dat die Verkenners glo In Sy Almag, en dat God enige mens kan red wat Hy wil.

Die Verkennersbeweging en die VVK glo wel dat menslike rasseverskeidenheid ook deur God geskape is en dat alle mense ‘n verpligting het om ook hierdie aspek
van die Skepping in stand te hou, soos wat ons dit van God ontvang het.