Verbruikers gaan hoes!

Eskom se skuld gaan in die volgende vyf jaar van R182 miljard tot R350 miljard groei ten einde sy bouprogram te kan volhou.

Sy kapitaalbesteding – hoofsaaklike bouwerk aan sy twee nuwe steenkoolkragstasies – het in die boekjaar tot einde Maart R58,8 miljard beloop.

Paul O’Flaherty, finansiële direkteur van die elektrisiteitsreus, verwag dat kapitaalbesteding in die volgende vyf jaar sowat R65 miljard per jaar gaan beloop. “Dit gaan ons rentebetalings op sowat R23 miljard per jaar te staan bring,” het O’Flaherty gister gesê.

“Om dit in perspektief te stel: Ons rentebetalings gaan in die volgende vyf jaar sowat R120 miljard beloop. Dis gelyk aan ’n jaar se omset.”

Eskom het R1,8 miljard bestee om van Desember verlede jaar tot einde Mei vanjaar elektrisiteit terug te koop van groot verbruikers soos chroomsmelters.

Die uiteinde is dat die verbruikers hierdie enorme skuldlas sal betaal op een of ander manier. Kenners is van mening dat daar te veel korrupsie bestaan wat ook die kragvoorsiener se skuldlas nadelig beïnvloed.