Transvaal Rugby is wéér in krisis

Die Goue Leeus Rugby Unie, beter bekend as Transvaal, is al weer in ’n krisis gedompel.
Sowat ’n jaar terug was daar groot gewag gemaak van die nuwe vennoot wat die unie uit hulle geldelike gemors sou red. Met ’n Rus en een van die nuwe Suid-Afrika se bevoordeeldes aan die spits, sou dit die blykbaar die vennootskap wees wat die unie weer sou ophef tot vroeëre glorie. Hierdie wittebrood het egter nie baie lank gehou nie en die bevoordeelde en die Rus is vort.

Die volgende skop op die maermerrie was toe dit onlangs duidelik geword het dat die unie nie nie volgende jaar aan die Super 15 kompetisie gaan deelneem nie. Dit is nou as gevolg van die feit dat die Oostelike Provinsie, of soos hulle deesdae bekend staan, die Konings, hulle plek gaan inneem. Dis nou des nieteenstaande die feit dat die OP nie eers die vermoë het om in die huidige Vodacom beker hond haar-af te maak nie en op hulle beste ’n derderangse span is nie.

Hierdie week is Transvaal ondersteuners ’n skop in die tande toegedien met die nuus dat die hoof afrigter geskors is. John Mitchell, wat ingevoer is van Niue Seeland en die Curriebeker vir die unie help verower het, is blykbaar te streng met die spelers. Na verneem word, het hy ook sommige manne persoonlik beledig. Hy is intussen geskors.

Bespiegelinge bestaan of dit nie maar ’n handige manier is om Mitchell van sy kontrak te onthef nie, aangesien hy gaan duime draai gedurende volgende jaar se Super rugby kompetisie.

“Die Vryburger” wonder of die manne wat vir so baie geld ’n bal rondjaag, nie dalk die dissipline nodig het nie? Baie ander het dit immers vir tussen ’n jaar en twee verduur teen amper geen betaling en baie meer manne as net ’n afrigter wat op jou skreeu en jou beledig…