Tenoor Herman Theron in Suid-Afrika

Die Reakopana Operafees skop af met ‘n opvoering van Leonard Bernstein se operette, Candide in die Atterbury-teater gedurende Augustus. Daar sal drie opvoerings in Pretoria plaasvind en in November weer 3 in Colombier Switserland.

Reakopana is die breinkind van die tenoor Herman Theron en Yves Senn van Switserland. In ‘n uitruilskema wat deur die Switserse ambassade ondersteun word, het die twee kunstenaars ‘n inisiatief begin wat die pad vir uitvoerende kunstenaars wat graag oorsee wil gaan, oop te maak.

Gedrewe deur ‘n liefde vir sang het Herman reeds op agtjarige ouderdom met sanglesse begin. Die besitter van ‘n liriese spinto (dramatiese) stem, is hy ewe gemaklik in opera sowel as ligte musiek.
Hy het by sangmeesters oorsee gestudeer waaronder Piero Cappucilli in Monza en prof Wally Sali in Turyn, Italië. Van 1999 tot 2000 het hy aan die La Nuova Arca Academia della Voce di Torino, sy studies voortgesit.
Gedurende die jare 2004 tot 2006 het hy verder onder die bekende tenoor Nicolai Gedda studeer en in 2007 het hy na Switserland verhuis om saam met Yves Senn, ‘n vooraanstaande tenoor en dirigent in Neuchatel, te werk.

Verlede jaar het hy die hoofrolle in Don Giovanni van Mozart en ‘n Haydnopera in Switserland vertolk.

Afgesien van die uitvoerings sal Reakopana ook meesterklasse deur Yves Senn aanbied. Belangstellendes het ‘n keuse tussen individuele meesterklasse of groepe. Vir nadere besonderhede kontak Herman by: [email protected]