Sweepslag 4

Ou Angie se stoel is nou vuurwarm! Die laaste keer wat ‘n minister omring was deur so groot gemors was…wel…seker gister en die dag voor dit en die dag voor dit. Azanië se ministers is nie veel meer betroubaar as Morné Steyn se skopvoet deesdae nie. Nietemin, sy sal darem seker ook iets sien van die R700 milj. kontrak wat toevallig aan haar maatjies toegeken is na al 22 ander tenders gediskwalifiseer is. Intussen wag die arme bloedjies in die noorde vir boeke terwyl ‘n berg daarvan by Seshego verbrand word. Al die boeke wat verbrand word is nie ewe ontstellend nie, tensy jy ‘n DA koukusleier is. Die van der Walt niggietjie is erg opgehits oor ‘n biografie van Azanië se gunsteling aartappel ook op die hopie lê. Meer onstellend is dat Bartho Smit se keiser se kaal boudjies ook moet brand en wat het Willem Wikkelspies se Macbeth gedoen om dit te verdien?

Schuster is teleurgesteld in die reënboognsie se “pirates”. Sy nuwe film wat skaars die bioskoop getref het is reeds geroof. Ou Leon kan nie te kwaad word nie, want netnou is die rowers swart en dan is sy woede lynreg teen die boodskap van die einste filmpie.

Dit gaan uiters goed met Azanië! Die rede hoekom miljoene mense betoog is oor die sukses van die regering! Me Dlamini-Zuma het verduidelik wat ons gewone mense nie kan verstaan nie. Dit is die mense wat sien dat alles rondom hulle so vooruitgaan, maar self ellendig is wat betoog. Ek dink as ek in my goedkoop karretjie weer omring word deur ryk mense se spogmotors moet ek my beste styfspanbroekie aantrek vir beweeglikheid, ‘n paar klippe in my klapmus toevou en die strate invaar met Sarie Marais in ‘n g-sleutel.

Lamola is ook verkeerd aangehaal. Hy wil nie regtig oorlog maak nie! Die media darem, veroorsaak soveel lelike misverstande. Hy’t mooi verduidelik toe Maryna Laas hom laas konfronteer. Hy wil eintlik hê die boere moet die grond net gee, sonder oorlog. Maryna wil toe ingesluit wees by die jeug. Ai, as wittes tog maar uitgesluit kon wees van Azanië…

Tot volgende slag…

Die Sweep