Sweepslag 2

Dit is lank reeds bekend dat Tannie Zille ‘n agtergrond danseres is vir die DA, maar dit blyk nou of sy bevorder is tot voorsangster. In Pietersburg maak sy toe mos haar verskyning al singende aan ‘n lied genaamd Vulindlela! Ouma Zille sê toe hulle moet stem en in ‘n toonbeeld van ironie, ruk al wat ‘n teenwoordige is dadelik hul slimfone uit om hul keuse te sms na 39855. Wat hierdie “Idols” kompetisie met dienslewering uit te waai het weet nugter, maar die stille aanspraak van die nuwe agtergronddanseres het nie by die Sweep verbygegaan toe Mazibuko rondtrippel soos ‘n vleimerrie wat in die mis getrap het op die klanke van Tina Turner se “Simply the best” nie.

Op ‘n totaal onverwante noot(d) is ‘n DA raadslid van Mosselbaai, me Susan Moodie in die sop omdat sy na bewering, soos ‘n bekende dagblad dit swart op wit stel, gesê het sy sal “ ’n bus vol k****rs” na ‘n vergadering aanry. Ek het die sterretjies getel om die probleem te probeer vasstel en dit wil voorkom dat in ‘n demokrasie dit laakbaar en aanklaenswaardig is om kampers, kiesers of kinders na politieke vergaderings te nooi.

Die skommelinge in die ANC en hul trawante is moeilik om te volg, maar ek sal probeer verduidelik. Cele sal loop as Zuma graag wil hê hy moet, Malema wou nie graag loop nie maar Zuma wou hê hy moet, Malema wil graag hê Cele moet bly, maar nie as hy nie wil hê Malema moet bly nie. Sexwale wil in en daarvoor sal Zuma moet uit, wat Malema wil hê, maar nie as Sexwale die een is wat dan inkom nie,want Sexwale sal Malema dalk ook wil uithê. Mdluli wil bly, maar Zuma kan hom nie inhou nie, al wil hy hom hou, terwyl Malema nie omgee nie en Sexwale hom nou wil inhê sodat hy hom later self kan uitkry. Noudat almal duidelikheid daaroor het, kan ons aanbeweeg.

So word Tina Joemat-Petterson tot een of ander vorm van ridder geslaan. Nie enige ridder nie, ‘n Franse ridder. Laat mens wonder of daar nie dalk ‘n vertaalfoutjie ingesluip het nie. Dalk was dit geen erkenning nie, dalk wou ‘n Franse ridder haar net slaan?

Die Sweep