Skurke slaan só toe op huise

Diewe doen hulle voor as werknemers van die elektrisiteitsverskaffers soos Centlec om in huise in te kom. Ander is geklee in Telkom oorpakke, ander het die plaaslike munisipaliteit se klere aan.

Pas op vir dié skurke, waarsku die polisie.

Sogenaamde werkers het al by vier huise in Bloemfontein in woonbuurte soos Westdene, Wilgehof, Fichardtpark en Universitas ingestap en inwoners besteel, sê kapt. Chaka Marope.

Hy sê dié diewe is lief vir elektroniese toebehore, skootrekenaars, handsakke, selfone en eintlik enigiets waardevol wat hulle kan wegdra.
“Daar is gewoonlik ’n hele paar mense. Soms is dit ’n vrou en drie mans en ander kere weer twee mans en twee vroue.”

Daar is ook diegene wat hulle voor doen as potensiële huiskopers en besoek dan woonhuise wat op skou is. Daar word na raming sowat R40,000 se goedere per week op die wyse uit huise gesteel.