Saturnus verrassing

Londen – Wetenskaplikes het die verrassende vonds gemaak van ‘n meer wat ryk is aan metaan naby die ewenaar van Saturnus se grootste maan.
Mere is al voorheen naby Titan se poolstreke opgemerk, maar daar is gedink dat vloeistofmassas nie naby die tropiese gebiede kan bestaan nie aangesien hulle sal verdamp, word berig.

“Hierdie vonds was heeltemal onverwags, want die mere is nie stabiel by tropiese breedtegrade nie,” het die wetenskaplike Caitlin Griffith van die Universiteit van Arizona, wat die span gelei het wat die vonds gemaak het, gesê.

Dit beteken daar is moontlik ‘n ondergrondse bron van metaan wat van tyd tot tyd na die oppervlak styg. Dit kan ook verduidelik hoekom die chemikalie so volop is in Titan se atmosfeer.