Owerhede knel ekonomie

Korrupte plaaslike owerhede is besig om dit vir eiendomsmaatskappye al hoe moeiliker te maak om in nuwe ontwikkeling te belê. Daar is reeds tekens dat maatskappye begin kyk na projekte in die buiteland wat tot gevolg het dat die land vêrder agteruit sal gaan omdat dit nie net ontwikkeling strem nie maar ook werkskepping benadeel.

Marc Wainer, die uitvoerende hoof van Redefine Properties, het daarop gewys dat die maatskappy nie die rug op Suid-Afrika wil draai nie maar hy belê verkies om te investeer in gebiede wat nie gebuk gaan onder burokrasie en korrupsie nie.

Mnr. Wainer wys daarop dat dit op die oomblik beter is om geboue te koop en te verhuur as om met nuwe ontwikkeling te begin.

Hieruit moet afgelei word dat amptenare van die owerhede telkens die hand hou om nuwe ontwikkelingsprojekte goedgekeur te kry. Dit is een van die grootste knelpunte en ’n realiteit waarmee rekening gehou moet word wanneer daar sake gedoen wil word in hierdie land.