OPENBARE DEBAT TUSSEN VVK EN DA

In ‘n verklaring sê Die Republikeinse Vroue Beweging (RVB) dat hulle dit goed gedink het om ‘n openbare debat te reël tussen die VVK, Verkenners aan die een kant en die Demokratiese Alliansie aan die ander kant Die tema van die debat sou wees “Suid –Afrika : Die pad vorentoe”. Uitnodigings is gestuur aan al die betrokke partye en die VVK en Verkenners in ingestem tot die debat. Mnr Anthony Benadie van die DA, het aanvanklik ingestem tot die debat, maar het later per e-pos onttrek van die debat.

Benadie se antwoord lees as volg: ” Ek moet sê dat ek dit ernstig oorweeg het om aan die debat deel te neem, veral onder die tema wat voorgestel is. Ek’t egter bietjie navorsing gaan doen oor die organisasies en persone wat aan die debat deel sou neem. Ek het tot die gevolgtrekking gekom, dat die debat geen doel sou dien nie. Die uitlatings van Ben Geldenhuys asook ander het my oortuig dat daar geen opregte begeerte is om n gesamentlike toekoms vir alle Suid Afrikaners te vestig nie. Dit is vir my duidelik dat ons nie oor kwessies sal saam stem nie, en die toekoms van ons land sal nie noodwendig deur so ‘n debat bevorder word nie. Ek dien in `n statutêre grondwetlike instansie en sal my daagliks daarin beywer om ‘n verskil vir alle Suid Afrikaners te maak. Dankie vir u moeite en uitnodiging. Ek hoop dat ons eendag dieselfde politieke siening vir Suid Afrika sal he.”

Die RVB sê in hul verklaring dat dit blyk dat die DA by monde van Mnr Benadie geen respek het vir idees oor die toekoms wat van hulle eie verskil nie en dat dit selfs voorkom dat die DA bang is om gekonfronteer te word met oplossings wat verskil van die DA se benadering. Dit kan natuurlik ook wees dat Mnr Benadie homself nie opgewasse ag vir sy teenstaanders in die voorgestelde debat nie en daarom het hy eerder onttrek, het die RVB bygevoeg.