OORLOG ?

“Dit wil voorkom asof boere geen ander keuse het nie as om hulleself te moet voorberei vir oorlog.”

So sê TLU SA se Adjunk-President en Voorsitter van die Veiligheidskomitee, mnr. Henry Geldenhuys. Mnr. Geldenhuys het gereageer op die moord op die 77-jarige mnr. Johan van Rensburg van die Baltimore-omgewing. “Hierdie moord kom skaars ’n dag nadat die ANC Jeugliga se adjunk-president, Ronald Lamola, in Durban gesê het dat Suid-Afrikaners in ’n illusie leef dat hulle hul grond vreedsaam sal terugkry. ‘Ons het gebeure so kragdadig as ’n oorlog nodig om die land weer in besit van Afrikane te kry’, het Lamola volgens berigte gesê.”

Mnr. Geldenhuys het die moord op mnr. Van Rensburg in verband gebring met Lamola se uitsprake, nadat dit blyk dat hoofsaaklik wapens vermis is. “Waarvoor word wapens gesteel anders as om daarmee nog meer moorde te pleeg? Lamola skep die ideale atmosfeer vir radikale en roekelose jeugdiges om sy uitlatings letterlik op te neem. Boere kan hierdie uitsprake nie langer ignoreer nie en sal ter wille van oorlewing en behoud van hulle grond, insgelyks moet voorberei en organiseer vir die ergste moontlike scenario,” sê mnr. Geldenhuys.

Johan Willemse van die VF+ het in ‘n verklaring gesê dat die VF+ met skok kennis geneem het van die hernude vlaag plaasaanvalle “ die aanval op die Badenhorsts, noord van Pretoria, was die voorloper op die moord van Johan van Rensburg van Baltimore, wie se eggenote kritiek in die hospitaal is” skryf Willemse in sy verklaring. Hy het bygevoeg dat die owerhede vaal in hul plig om wet en orde doeltreffend toe te pas. “Indien die SA Polisie Diens nie in staat is om aanvalle op plase stop te sit nie, moet die Regering dringend ‘n Kommando-stelsel in werking stel.”

Volgens statistieke van Projek 2010, die volksmoord opname projek, is daar reeds negentien Afrikaners vermoor sedert 1 Mei 2012.