Olie tekort – SA se voorland

In ’n Skrywe wat in Sake24 se besit is, word Suid-Afrika se staatsoliereus PetroSA ingelig dat sy kommersiële aansoek vir ’n Nigeriese ruolie-kontrak wat vir die volgende jaar geld, verlede week deur Nigerië se nasionale petroleumkorporasie afgekeur is.

Die aansoek was ’n poging om brandstofsekuriteit in die land te verseker soos die regering poog om die voorgenome sanksies op Iran deur Amerika en die Europese Unie te omseil.

Iran verskaf meer as 25% van Suid-Afrika se ruolie. Nigerië word gesien as sleutel om dié tekort wat die land kan tref, te versag.

Daar is ’n groter vraag as aanbod van die olie – dus kan Suid-Afrika in die situasie beland dat hy nie enige vate sal kan kry nie.

Suid-Afrika het in die jaar tot einde Maart 2012 meer as vier miljard liter ru-olie van Nigerië ingevoer – sy vierde grootste olie-vennoot. Uit Iran is sowat 5,6 miljard liter ru-olie ingevoer.

In totaal is meer as 20 miljard liter ru-olie teen ’n bedrag van R105 miljard ingevoer.