Nuwe Politieke Party

Daar is tans mense aan die werk wat besig is om ’n nuwe politieke party te stig. Die woordvoerders is klaarblyklik van mening dat die huidige pogings van volksgenote nie die gewenste resultate lewer nie. Die beskuldiging word gemaak dat die Boere-Afrikaner Volksraad “niks doen om ons volk se vryheid te herwin” nie. Hulle is ook nie tevrede met die koers en rigting van die VF Plus nie.

In gesprek met mnr. Andries Breytenbach, voorsitter van die Boere-Afrikaner Volksraad, het hy gemeld dat daar verwarring bestaan of die party reeds gestig is. Mnr. Breytenbach het verneem dat die nuwe party wil poog om 10 miljoen stemme te kry in ’n algemene verkiesing. Daar is waarskynlik nie die helfte soveel blankes in die land nie, en dus spreek die implikasie vanself.

Intussen het “Die Vryburger” vasgestel dat die nuwe party nog nie gestig is nie. Die stigters wil ’n konfederale stelsel bevorder aangesien die gedagte van ’n soewereine staat volgens hulle nie sal realiseer nie. Hulle glo blykbaar dat die ANC regering nooit toestemming sal gee vir ’n onafhanklike volkstaat nie, en derhalwe wil hulle die regering oorreed tot die vestiging van ’n konfederale stelsel vir die land.