Matikana Hospitaal

’n Inwoner van Pretoria het ’n nare ondervinding gehad by ’n hospitaal in Pretoria. Gert Peens is vandag gelukkig genoeg om te kon bly leef om die gebeure te kan vertel. Hy kan ook met dankbaarheid getuig dat daar nog mense in Suid-Afrika is wat omgee.

Vir meer as ’n jaar sukkel hy nou al met ’n liesbreuk. ’n Chirurg het hom in Desember 2011 gesien en ’n operasie gereël vir 17 Februarie 2012. Die chirurg het egter gewaarsku dat mnr. Peens dadelik moet kom vir ’n noodoperasie indien die kolon nie meer teruggedruk kan word nie en hy diaree ondervind en braak.

In Januarie is hy meegedeel dat die operasie uitgestel is en is hy huistoe gestuur met ’n opnamebrief van die chirurg sonder ’n datum. Die dokter sou hom skakel wanneer hy moet kom vir die operasie. Wanneer mnr. Peens navraag gedoen het is daar telkens vir hom gesê hy is op die noodlys en hulle sal hom bel.

Op 5 Junie 2012 het mnr. Peens begin kouekoors kry. Dinsdag 6 Junie halfeen die oggend, is hy opgeneem met ongelooflike pyn en braking. Hulle het vir hom suurstof, aarvoeding en pyninspuitings gegee. Die pyn op sy maag het nie beter geword nie en daar is X-stale geneem.

Die Internis het hom kom sien en gesê hy sal geopereer moet word, maar die Chirurg het die finale sê.

Die Chirurg het hom halfvyf die middag kom sien, die kolon met geweld teruggedruk en mnr. Peens ontslaan.

Intussen het mnr. Peens geen voedsel of vloeistof ingeneem nie. Selfs water het hom laat opgooi. Hy het sy lippe net natgemaak en gladnie vloeistof ingeneem nie.

Saterdag kon hy die pyn nie meer uitstaan nie en is hy twaalfuur die middag terug hospitaal toe. Hy moes in ’n ry van 20 mense sy beurt afwag. Sy vrou het die personeel gesmeek om hom op ’n bed te laat lê totdat dit sy beurt is. Sy sal sit en wag in sy plek en hom gaan haal wanneer dit sy beurt is om die dokter te sien. Hulle het geweier.

Mnr. Peens kon dit nie meer uithou nie en het net in ’n koers begin loop. Sy vrou het hom toe na noodgevalle geneem en hom daar op ’n bed laat lê. Dit was ’n vreeslike geveg. Sy is uitgetrap omdat hulle die sisteem ignoreer. Sy het gesê hulle kan maar op haar skree sy gee nie om nie hulle moet haar man net laat lê totdat dit sy beurt is, hulle vra nie voorkeur behandeling nie.

Die suster in beheer het toe ingestem en ’n dokter gaan roep.

Mnr. Peens kon die kolon gladnie meer teruggedruk kry nie. Die pyn was net te erg. Hy was toe al vanaf die Maandag sonder kos of water. Niks het binne gebly nie. Hy het begin om swart slym op te gooi. Toe hy dit vir die hospitaalpersoneel sê het hulle hom belaglik gemaak en gesê mense gaan dood sonder kos en water hy moes iets binne gehou het. Hy het weer aarvoeding met immodium gekry wat die braking onderdruk het. Pyninspuitings kon egter nie die pyn verdoof in sy maag nie. Daar is weer X-strale geneem.

Die Internis wat mnr. Peens kom sien het, het gesê hy sal geopereer moet word maar die finale besluit lê by die Chirurg.

Halfelf die aand het die chirurg hom kon sien. Hy het weer die kolon met ongelooflike pyn teruggedruk. Met die gespook om dit terug te kry het hy een van mnr Peens se testikels saam probeer indruk. Mnr. Peens het vreeslik gekerm en mooi gevra om hom nie so seer te maak nie, waarop die Chirurg net gesê het hy moet ontspan.

Toe mnr. Peens vir die Chirurg van die verskriklike pyn op sy maag sê en uitvra oor die X-strale was sy reaksie dat niemand hom van die pyn gesê het nie hy is slegs daar vir die liesbreuk en dat hy nie na die X-strale gekyk het nie omdat hy weet wat die fout is.

Mnr. Peens se seun kon sy pa se pyn nie aanskou nie en het met die chirurg probeer praat. Die chirurg het sekuriteit ontbied en jong mnr. Peens is uit die hospitaal verwyder.

Vroeër die aand het hy foto’s van die bloeddruk en pols geneem om vir sy tannie te stuur wat ook verpleegsuster by ’n ander hospitaal is en toe is hy ook ernstig aangespreek omdat dit glo die hospitaal se toerusting is en hy nie foto’s mag neem nie.

Daarna is mnr. Peens ontslaan en met ’n rolstoel uitgestoot waar hy in die koue portaal moes wag totdat sy seun sy motor gaan haal het om hom te kom oplaai.

Mnr. Peens het familie in Nelspruit en Sondag het sy seun hom daarheen geneem. Maandag is hy na Matikana hospitaal geneem waar ’n familielid werksaam is.

Sy geslagsdele was so erg geswel dit kon met ’n halwe rugbybal vergelyk word. Hy was ook baie geswel. Hy het die vorige Woensdag laas geurineer.

Die vriendelikheid, simpatie en empatie deur die personeel was verstommend.

Vieruur Maandagmiddag is hy teater toe vir ’n noodoperasie. Die operasie het 3 ½ uur geduur. ’n Knap chirurg het 2 obstruksies aan sy kolon, die liesbreuk, asook 4 breuke aan die platkant van sy maag opgebou en herstel.

Die verblyf en versorging tydens sy herstel was absoluut ongelooflik. Die vriendelikheid waarmee hy, sowel as sy vrou mee ontvang is, word hoog waardeer en aangeprys.

Aan die dokters en personeel en veral Saal 5, van die Matikana hospitaal, wil die Peens-familie hulle dank betuig dat hulle gehelp het om ’n man se lewe, sonder enige huiwering, te red.

Rhona Peens
Pretoria