Klein Pippie vorder goed.

Die kleuter Pippie Kruger se nuwe Amerikaanse vel is 90% suksesvol oorgeplant, het dr. R. Mia gisteraand gesê.

“Die klein gedeeltes waar die vel nie gevat het nie, sal deur die omringende vel toegegroei word,” het Mia op ’n mediakonferensie na die operasie gister gesê.

Anice Kruger, Pippie (3) se ma, het uitbundig gelag toe die eerste goeie nuus uit die operasieteater gelek is dat die vel goed gevat het.

“Aan die begin het hulle vir my gesê Pippie het ’n 10% kans op oorlewing. Nou het die vel 90% gevat so nou is sy 100% perfek,” het sy gesê.

Sy en haar man, Erwin, het mekaar omhels toe die goeie nuus bekend geword het..

“Het Liewe Jesus ons al ooit teleurgestel,” het Anice haar man gevra.

Die werk is gedoen deur ’n span kundiges waarvan dr. Alan Barrett, hoof van medies by Genzyme in Suid-Afrika een is.