Groter vryheid vir Shaik

Die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik geniet die voordele van parool-voorwaardes wat aansienlik verslap is, het Mnikelwa Nxele, streeksbevelvoerder vir die KwaZulu-Natalse korrektiewe dienste, bevestig.

Shaik se aantal ure wat hy daagliks vry het, is verleng.

“Van Maandag tot Donderdag is hy van 13:00 tot 17:00 vry. Die vry ure op ‘n Vrydag, van 10:00 tot 19:00, is om sy godsdienstige behoeftes te akkommodeer. Op Saterdag is die vry ure van 11:00 tot 19:00 en Sondag van die middag tot 22:00,” het Nxele gesê.

Shaik, voormalige finansiële raadgewer van pres. Jacob Zuma en die broer van Mo Shaik, hoof van die Suid-Afrikaanse Geheime Diens (SAGD), is in 2005 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van korrupsie. Hy is te midde van omstrede omstandighede kort daarna op grond van mediese redes op parool vrygelaat.