Elza van den Heever optrede

Die Suid-Afrikaanse dramatiese sopraan, Elza van den Heever, kan op 8 Julie in Kaapstad gehoor word.

Elza, ‘n dogter van die voormalige televisie-aanbieder, Rita van den Heever, is besig om die Europese operahuise aan die brand te sing. Afgesien van die Frankfurt Operahuis, waar sy ‘n vaste lid is, het sy ook in Chicago, Bordeaux, Hamburg en Berlyn opgetree.
Volgende jaar debuteer sy aan die Metropolitan Operahuis in New York.

Hierdie jong sangeres blink uit in ‘n klomp uiteenlopende en moeilike rolle, waaronder: Elisabetta in Don Carlos van Verdi, Elsa in Lohengrin van Wagner, Anna Bolena (die verhaal van Anne Boleyn) van Donizetti en Vitellia in La Clemenzo di Tito van Mozart.

Kapenaars sal haar kan hoor in Richard Strauss se Vier Letzte Lieder voor pouse en daarna twee arias uit Wagner se operas, nl: “Dich, teure Halle, uit die tweede bedryf van Tannhaüser en “Einsam in Trüben Tagen” uit Lohengrin.

Bernard Gueller dirigeer die Kaapse Filharmoniese Orkes.

Kaartjies is by Computicket beskikbaar.