Duitsland onwillig as EU melkkoei

Die verkiesingsuitslag in Griekeland het menige lid laat sug van verligting deurdat die pro-Europa party die meer konserwatiewe, Nuwe Demokratiese Party (NDP), die meerderheidstem van 30,04% verkry het teenoor die radikaal linkses onder Alexis Tsipas 26,57%. Die leier van die NDP, Antonis Samaras, moet nou ‘n regerende groep uit die kleiner partye saamstel.

Die NDP hoop om sekere toegewings van die EU te verkry op die streng besparingsmaatreëls wat vereis word. Duitsland se Angela Merkel het reeds te kenne gegee dat sy nie onsimpatiek sal staat teenoor so ‘n versoek nie. Sy het intussen in ‘n toespraak aan die Bundestag laat bleik dat Duitsland nie oor voldoende ekonomiese vermoëns beskik om die hele Europese las te dra nie, soos wat sekere lidlande van Duitsland verwag nie. Sy het dit verder gestel dat Duitsland nie te vinde sal wees vir druk van buite om “kontraproduktiewe” oplossings te vind vir die EU ekonomie op Duitsland se rekening nie.