Delmas optog – 31 Mei 2012

Donderdagoggend 31 Mei ry ons douvoordag in die rigting van die Hoëveld. Die pad is besig en jy kan beswaarlik voor jou sien soos misbanke die son versluier. Ons kom teen half-nege in ‘n yskoue Delmas aan en kuier met die groep mense wat reeds wag langs die Pretoria-aansluiting van Sameulweg. Almal opgewonde vir wat voorlê. Om 9h15 open APK-student (en Verkenner) Ruan Combrink vir ons met skriflesing en gebed, waarna Paul die res van die verrigtinge se reëlings aan ons deurgee.

Toe neem die voertuie, getooi in Volksvlae hulle plekke in op die pad en die stappers val met gepasde baniere tussen hulle in. Met die gedreun van Steve Hofmeyr se “Ons sal dit oorleef” in die agtergrond begin ons stap – ons hou optog!! Want ons is moeg om weerloses aan ‘n martel-dood af te staan tydens die volksmoord wat teen ons aan die gang is; ons is moeg vir Swart Suid-Afrika; moeg dat die ANC nie na ons luister en ons VRYHEID vir ons wil teruggee nie.

Met ‘n knop in die keel stap ons die ongeveer 1,5 km. na die munisipale kantore – nou ‘n vervalle gebou in die eens trotse “regse” kiesafdeling. Ons kry die geleentheid om na twee Volksraadslede – Andries Breytenbach en Henk van de Graaf – se kort, kragtige toesprake te luister waarna nog ‘n Volksraadslid, Ben Geldenhuys, die Delmas-Memorandum in Afrikaans vir ons voorlees alvorens hy dit aan die Polisie oorhandig.

Die Memorandum waarin die ANC gewaarsku word om nie die Volksraad se uitnodiging, om ons eis vir selfregering vreedsaam met hulle te beding, verder te ignoreer nie. Intussen vat ‘n ANC-vlag vlam, en die kameras rol!

Na afloop van die opwindende gebeure stap ons terug na die ontmoetingspunt waar Abel Malan vir ons afsluit met gebed, en ons Hemelse Vader bedank vir die suksesvolle optog.

‘n Spesiale woord van dank namens die RVB Donkerhoek vir elke volksgenoot wat sy of haar weg oopgesien het om saam te stap – en ook aan die DA wat ons nou Menseregte Kommissie toe sleep – oor ons nie te lamsakkig is om te veg vir ons vryheid nie – ons sien uit daarna! Dis tyd dat die volk daarbuite sien dat ons – mans, vrouens én kinders, bereid is om te stap, treetjie vir treetjie, oppad na VRYHEID!!