Boere-Afrikaner Volksraad se siening

Die Boere-Afrikaner Volksraad het in ’n verklaring verwys na die grondgryp siening van die ANC en sy Jeugliga. Die rassespanning wat veroorsaak is deur die uitlatings van sogenaamde jeugleiers van die Liga, het in die afgelope week wye reaksie ontlok.

Die Volksraad wys in hul verklaring daarop dat die volk nie onbepaald kan toekyk hoe sy mense vermoor word sonder om iets te doen nie.
Die oorlog-praatjies het wyd uitgekring terwyl mnr. Zuma en sy kabinet nie ’n enkele geluid maak oor die aangeleentheid nie. Dit laat die indruk dat die ANC regering die uitspraak van Lamola ondersteun.

Die volledige verklaring soos ontvang is deur “Die Vryburger” vanaf die Boere-Afrikaner Volksraad se voorsitter. Mnr. Andries Breytenbach, lui soos volg:
Die Boere-Afrikanervolksraad het met kommer kennis geneem van die verhoogde rassespanning wat tans in Suid-Afrika heers met selfs verwysings van oorlog wat in die media oor berig word. Die oorsaak van hierdie verhoogde rassespanning is die besluit van die ANC en sy jeugliga om die grondgryp program te verskerp, soos verwoord deur die waarnemende President van die jeugliga, Ronald Lamola. Die gevolge hiervan is die verhoogde aanvalle en moorde op blankes.

Die ANC regime sal moet besef dat ‘n volk net so lank kan sit en toekyk hoe sy lede vermoor word, sonder om iets daaraan te doen. Geen volk kan toelaat dat ‘n organisasie soos die ANC se revolusie plaasvind ten koste van daardie volk se lede se eiendom en lewens nie.

Die Boere-Afrikanervolksraad het reeds ‘n vreedsame oplossing aangebied aan die ANC regime, maar blyk dit dat die ANC nie in ‘n vreedsame oplossing belangstel nie en eerder sy lede se bloeddorstigheid wil les.

Sou die regime tot sy sinne kom, is die Boere-Afrikanervolksraad steeds bereid om gesprek te voer oor die Boere-Afrikanervolk se reg om selfbeskikking, wat die enigste haalbare en vreedsame oplossing is vir die rassespanning en dreigende rasse oorlog in Suid-Afrika.