Landbouers woedend oor onregverdige kritiek

TLU SA betreur die pogings van bepaalde rolspelers in die bedryf wat deurlopend probeer om die landbouer, en veral kommersiële boere, in Suid-Afrika te diskrediteer en in ‘n swak lig te stel.
“Ons word oorval deur ons lede wat woedend is omdat hulle as gronddiewe en onnodig vir die landboubedryf beskryf word,” sê Louis Meintjies, die President van TLU SA. “Ons lede is moeg daarvoor om gereeld die sondebok gemaak te word terwyl ons hard werk om Suid-Afrika se tafels vol kos te hou.”
Die hernude aanslag op kommersiële boere volg na ‘n paneelbespreking by die Woordfees op Stellenbosch waaraan Dr Piet Croucamp onverwags deelgeneem het. Tydens die gesprek het Dr Croucamp stellings gemaak wat impliseer dat die boere van Suid-Afrika misdadigers is deur te beweer dat hulle die grond waarop hulle boer, gesteel het.
“As akademikus behoort Croucamp van beter te weet deur ten minste stawende bewyse vir sy vergesogte stellings voor te kan lê,” sê Meintjies. “Alle navorsing dui daarop dat geen boer sy of haar grond gesteel het nie. Ons het, as TLU SA, selfs al ‘n beloning van R100 000 uitgeloof vir enige persoon wat kan bewys dat die kommersiële boer sy grond gesteel het. Ons geld is nogsteeds veilig in ons bankrekening.”
Grondeienaars beskik oor titelaktes wat deur die staat uitgereik is wat hom of haar die wettige eienaar van die grond maak.
“Deur hierdie ongegronde politieke retoriek uit die ultra-linkse politieke partye se arsenaal te gebruik, wys Croucamp sy ware kleure,” sê Meintjies. “Hy is besig om ons geskiedenis te probeer herbou terwyl TLU SA daarop fokus om ‘n toekoms te bou vir almal in die land.
“Dit is vir ons onverklaarbaar dat sodanige mense nog enigsins ‘n platform gegun word om nog meer petrol in die leuen-vuur oor grondbesit in Suid-Afrika te gooi. Ons hoop dat die Noordwes Universiteit waaraan Croucamp verbonde is gepas teen hom sal optree. Hy benadeel die reputasie van hierdie akademiese instelling deur sulke emosionele en ongegronde uitlatings te maak.”
TLU SA verwerp die aantygings van Dr Piet Croucamp dat boere hulle grond gesteel het met die minagting wat dit verdien.