Trump staatsrede sonder verrassings

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het in sy staatsrede ’n oproep tot groter eenheid onder Amerikaners gedoen en selfs gevra dat die land nie as twee politieke partye regeer moet word nie, maar as ’n eenheid.

Die is President Trump se tweede staatsrede sedert hy as president verkies is, en het te midde van gedurige stryd met die linkse Demokratiese paty, wel gevra vir beter samewerking.

Hy sê die twee partye, Republikeine en Demokrate moet saam as ’n nasie die land regeer om sodoende groter eenheid te bevorder.

Hy het gesê die beplande ontmoeting met Kim Jong-Un van Noord-Korea wat op 27 en 28 Februarie in Vietnam plaasvind, hopelik goed sal wees vir wêreldvrede.

Met verwysing na die Amerikaanse ekonomie het hy daarop gewys dat dit ’n voorbeeld vir die wereld is, en dat die land ekonomies steeds aan die opbloei is.

Hy het gesê die optrede van di VSA in Navo het getoon dat Amerika vir dekades gemelk is terwyl ander lande nie hulle deel bygedra het om Navo finansieel te sterk nie, maar dit het nou verander en spaar dit die land miljarde dollar.