Motor rubriek – Mercedes Benz Vito 111 CDI Tourer PRO

Die motor wêreld raak by die dag al meer interessant en hier word verwys na Mercedes Benz se optrede die afgelope tyd – nie dat daar iets mee verkeerd is nie maar ‘n mens staan verstom.

In die jongste tyd is daar in samewerking met Nissan die Mercedes Benz bakkie bekendgestel. In die nuutste Mercedes Benz Vito sportnuts word daar gebruik gemaak van ‘n aangepaste Renault kragbron. Dit is egter algemene kennis dat Renault produkte baie betroubaar is.

Hierdie voertuig is die enigste model waar daar gebruik gemaak word van voorwiel aandrywing en ‘n ses spoed hand ratkas word ingespan. Dit kan nege passasiers neem

met genoeg beenspasie en daar is nog aansienlik plek in die bagasieruimte. In al die modelle word daar gebruik gemaak van rubber matte vir vloerbedekking, gewone materiaal bedekking vir die sitplekke, elektries beheerde kant spieëls en voorste deur vensters, hoogte en reik afstand verstelling vir die stuurwiel, staal wielnawe met plastiek wiel bedekking, enkel kanaal lugversorger met kanale na die agtste gedeelte van die voertuig, ‘n outomatiese sluitstelsel vir die deure wanneer die voertuig aan die beweeg is, stoor plek vir artikels, twee lugsakke, ‘n radio en nog ander handige toerusting. Die bestuurder sitplek het drie verstellings. Vir hoogte, reik afstand en die rugstut. Die ander sitplekke se rugstut is nie verstelbaar nie.

Wanneer daar gekyk word na die grootte van die bakwerk dan kom die vraag onwillekeurig by ‘n mens op of die 1598 kub. sentimeter, vier silinder, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep, turbo diesel kragbron die voertuig met gemak sal kan laat beweeg. Daar is geen probleme wat dit aanbetref nie. Dit reageer flink en 84 kW is beskikbaar teen 3800 o.p.m. en die wringkrag is 270 Nm teen 1500 o.p.m. Alhoewel dit van akkademiese belang is, is dit volgens ingeligte bronne in staat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 15 sekondes.

Omdat hierdie ‘n voertuig is wat daarop gemik is vir industriële wêreld, is daar seker gemaak dat dit nie moeilik is om die laai vlak te bereik nie. Die vloer hoogte vir die laai van goedere bokant grondvlak is nagenoeg 43 cm en wanneer die knip van die bagasiebak deur gedruk word, help die twee gasgevulde stutte dat die deksel moeitevry oopmaak. Die bagasieruimte kan 500 liter goedere behartig en daar is ook vasheg plekke vir goedere.

Soos met alle Mercedes voertuie is padgedrag van hoogstaande gehalte en selfs op minder goeie paaie is daar nie probleme nie.

Wanneer ‘n mens aan die voorkant van die voertuig kom, is die drie punt ster in die middel van die sierrooster gemonteer en die neus gedeelte vorm deel van die enjin kap en voorste modderskerms.

Hierdie is eintlik ‘n “werkesel” en dit kan gerus oorweeg word in die plek van ‘n gewone sportnuts voertuig want dit kan hard werk maar terselfdertyd kan dit ook ingespan word vir ‘n ontspannings voertuig vir byvoorbeeld die natuur liefhebbers in ons geledere.

Die groot sykant vensters verseker goeie sig na buite en dit is dus die ideale voertuig om ‘n besoek mee te bring aan die byvoorbeeld die wildtuin. U kan gerus hierdie Vito op u aankoop lys plaas sou oorweeg om ‘n sportnuts voertuig aan te skaf.