Koue laat VSA verkluim

’n Kouefront wat ongekende lae temperatuur veroorsaak, het die sentrale en oostelike deel van Amerika getref wat vir meer as ’n week sal voortduur om Amerikaners te laat bibber.

Rekord lae temperatuur is reeds aangeteken op verskeie plekke, en vergelyk goed met die temperatuur by Antarktika.

Miljoene Amerikaners in die noordelike deel van die VSA het Donderdag opgestaan met ’n koue wat almal laat gryp het na hul warmste klere.

Die ongure weer het pad- en spoorverkeer tot stilstand geruk en vliegtuie kon nie op geskeduleerde tye hul passasiers vervoer nie.

Die Weerburo het gemaan dat mense hulle monde en neuse moet bedek om hulle longe te beskerm teen die lae temperatuur wat op plekke tot minus 50 grade Celsius gedaal het.

In dele van Chicago het die kwik gedaal tot minus 56 grade Celsius en die skerp wind daarmee saam het veroorsaak dat mense dit nie kon waag om na buite te gaan of selfs te oorweeg om te gaan werk nie.