Wonder bo wonder – SA staan nog

Suid-Afrika se ekonomie is wankelrig, maar dit staan nog te midde van ’n ongekende vlaag korrupsie wat die beste reddingspogings kan kelder.

Die onthullings van Bosasa se uitermatige korrupsie om seker mense te bevoordeel met kontrakte en tenders, het die sakewêreld en kiesers van die land met donderslae getref.

Soos met so baie ander entiteite, het Bosasa getoon dat hy nie skroom om met miljarde Rand se omkopery sy eie mense te bevoordeel nie.

Die “swyg vergoeding” wat Jacob Zuma ontvang het, was ’n reuse bedrag van R300,000 elke maand, en ander het tot R100,000 per maand ontvang wat ’n aanduiding is van hoeveel miljarde se bedrog toegelaat is.

Dat die land ekonomies staande bly, is ’n wonder, en miskien moet ’n veertjie in die hoed van landbouers en nyweraars gesit word wat met moeite die wolf van die dur weghou.

Dat die huidige ontbloting van ’n reuse skandaal skokkend inwerk op die eerlike hardwerkendes in die land, is te verstane, maar die kommer oor waar nog sulke enorme korrupsie aan die gang is, maak daardie selfde hardwerkende mense diep bekommerd.

Een saak staan vas: di omvang van korrupsie is sodanig dat die president sekerlik nie maklik sal slaag om dit te beëindig nie.

Maar wonder bo wonder, Suid-Afrika is nog staande!