Trump bly onversetlik oor grensmuur

Die Amerikaanse President Donald Trump, het in ’n toespraak wat wyd deur die media gedra is, opnuut bevestig dat die grensmuur tussen Meksiko en die VSA in belang van veiligheid is.

Hy het sy toespraak vanuit die Ovaal Kantoor in die Wit Huis gelewer en weer gevra dat die Huis van Afgevaardigdes, wat deur die Demokrate beheer word, moet besef wat die noodsaaklikheid van die beveiliging is.

Die Trump-administrasie is reeds twee weke lank afgesluit wat meebring dat ondergeskikte staatsamptenare huis toe gestuur is met verpligte onbetaalde verlof tot ’n ooreenkoms tussen die twee politieke partye bereik is.

Die Demokrate het vroeër gesê daar is geen manier dat hulle die $5,7 miljard beskikbaar sal stel vir die muur nie, en die president se reaksie daarop was dat dit selfs ’n jaar lank kan duur voordat die muur gebou kan word.

Hy het egter gewaarsku dat hy dit kan oorweeg om ’n noodtoestand af te kondig, wat hom dan die mag sal gee om die muur op te rig .