Nuwe politieke leier staan op in Venezuela

Die nuwe leier van die amptelike opposisieparty in Venezuela, Juan Guaido, het met die intrap getoon dat hy die diktator, President Maduro, se taak gaan bemoeilik.

Die opposisiepartye beheer die Nasionale Vergadering en Juan Guaido het die president ’n diktator genoem wat nie ’n legitieme mandaat het om die land te regeer nie.

Guaido het ook gesê die Nasionale Kongres beoog om die grondwetlike orde in Venezuela te herstel, en het met die woorde ’n nuwe tydvak in die politiek van die land ingelei.

Die 35-jatige Juan Guaido het in die Nasionale Vergadering die versekering gegee dat president Maduro se onwettige regering om ’n volgende termyn van ses jaar aan bewind te bly, nie aanvaar sal word nie.

Die jong leier het gesê Maduro moet kennis neem dat die enigste wettige en grondwetlike struktuur, die opposisie beheerde Nasionale Vergadering is wat die volk van Venezuela verteenwoordig.

Toenemende druk word op die omstrede diktator toegepas om nie op 10 Januarie ingehuldig te word vir ’n tweede termyn nie, en die groep van Latyns Amerikaanse state het ook hulle stem laat hoor in die verband.

Foto – Juan Guaido