Indrukwekkend maar verkwistend

Terwyl miljoene mense in die uiterste armoede leef en geen inisiatief het om hulle eie lewensgehalte te verbeter nie, is daar ook die ander miljoene wat met vindingryke optrede in rykdom en welvarendheid hulle lewens geniet.

Van die beste voorbeelde het weereens op 1Januarie vanjaar na vore gekom, met Australië op die voorpunt van hoe die nuwe jaar tegemoet gegaan word.

Indrukwekkende vuurwerk vertonings wat ’n volle 12 minute geduur en die land $100 miljoen gekos het, ten aanskoue van meer as 1,5 miljoen inwoners was vir hulle ’n klaarblyklike prioriteit.

Nieu Seeland het ’n soortgelyke vertoning gehad, en die een na die ander moondheid het ook hulle vertonings gehad wat uiteindelik miljarde dollar gekos het.

In Brasilië het die linkse regering enkele ure voor die nasionalistiese president beheer neem oor die land, ’n 14 minute vuurwerk vertoning gehad wat selfs meer as $100 miljoen gekos het.

Brittanje het nie agter gebly nie, en het meer as 8 ton se vuurwerk materiaal die lug ingeskiet wat miljoene euro beloop, terwyl Brexit nog onafgehandel is en ’n nagmerrie vir menige Brit is.

In Europa het bykans elke land sy eie besondere vuurwerk vertonings gelewer, almal met miljoene euro van die belastingbetalers.

Daardie selfde lande is deels skuldig aan beloftes van finansiële hulp wat aan die VN beskikbaar gestel sal word om verarmdes elders in die wêreld te ondersteun, maar daardie beloftes nie nakom nie.

Sulke vuurwerk vertonings mag wel indrukwekkend wees, maar die verkwisting van reuse bedrae, kan nie betwis word nie.

Hoe iemand dit kan verdedig om 12 minute se skouspel aan te bied en daarmee $100 miljoen “verbrand”, sal slegs opportunistiese politici kan doen, maar weinig van die wêreld se arm mense sal begrip toon vir daardie verduidelikings.