Die bedel-politiek

Die sakelui van die wêreld het jare gelede geleer dat daar kern aspekte is waarna gekyk moet word voordat geld in ’n ander land belê kan word om ’n veilige en goeie rendement te lewer.

Een van die belangrikste aspekte is stabiliteit in die land waarheen ’n sakeman se bedryf verskuif, of moontlik sou uitbrei.

Per slot van sake is daar ’n winsmotief gekoppel aan die verskuiwing van belange, en daarom is basiese sake beginsels van die uiterste belang.

Te veel stakings, gepaard met geweld en brandstigting maak beleggers kopsku, en grondgryp honger is die ergste afskrik middel vir enige belegger, want sy onderneming kan in gedrang kom.

Korrupsie kan lei tot uiteindelike ondergang van die nuwe belegger, en die misdaad vlakke wat ook onder lede van die veiligheidsmagte heers, sal geen belegger opgewonde maak om in sulke omstandighede se geld te waag nie.

Talle ander redes, sinoniem aan Suid-Afrika, kan nog bygevoeg word, en dit maak van Suid-Afrika ’n bedelaar wat pleit dat beleggers hulle moet blind hou vir die verliese wat hulle gaan ly, solank die bedelaar net staande bly.

Die huidige pogings om buitelanders te oortuig om hulle geld in die dobbelspel te waag, het reeds getoon dat dit klaaglik misluk het, en dat die belofte van baie werksgeleenthede wat geskep gaan word, maar net die ou foefie van die regime is wat nou herhaal word.

Die eens florerende Suid-Afrika, wat ’n groeikoers van 6% gehandhaaf het, is nou deel van die swakste in Afrika met sy 0,5% groei van die afgelope jaar.