Brexit nou ’n kopseer

Die Britse parlement het die Eerste Minister, Theresa May, opdrag gegee om terug te keer na die Europese Unie om ’n beter ooreenkoms te sluit.

Die premier het die bal teruggegooi na die parlement en gesê hulle moet eers aandui wat in die huidige ooreenkoms verander of bygevoeg moet word voor sy met die EU in gesprek kan tree.

Die Britse premier het daarmee die spreekwoordelike kat in die hoendehok gegooi, en na twee dae van debatteer oor die aangeleentheid was dit duidelik dat die parlementslede “debat-voos” geword het.

Intussen het die EU bestuur kennis gegee dat die ooreenkoms wat aangegaan is, nie gewysig gaan word nie en dat verdere onderhandelings nie moontlik is nie.

Dit laat die moontlikheid dat die fase bereik is van uittrede uit die Europese Unie sonder ’n ooreenkoms, wat vir beide partye ’n ernstige nadeel sal beteken.

Die ander moontlikheid bestaan dat die Britte nie uit die EU tree nie deur eers ’n tweede referendum daaroor te hou.

Die derde moontlikheid is dat die Britte gedwing word om die huidige ooreenkoms te aanvaar indien hulle nie ’n tweed referendum wil hou nie, veral in die lig daarvan dat die premier ten sterkste daarteen gekant is.