Vliegtuig fout – Merkel mis G20 opening

Bondskanselier Angela Merkel van Duitsland kon nie die opening van vanjaar se G20 Beraad in Argentinië bywoon nie.

Die vliegtuig waarmee sy onderweg was na die beraad, moes uiteindelik omdraai, slegs ’n uur nadat dit opgestyg het, weens ’n tegniese fout wat onmiddellike aandag vereis het.

Die G20 Beraad wat in Buenos Aires gehou word, is die eerste geleentheid wat Argentinië gekry het om as gasheerland op te tree.

Dit is nie seker wat die presiese tegniese fout aan die Airbus is nie, en die kanselier se plan om met die presidente van die VSA, Sjina, Rusland en Indië samesprekings te voer, se tydskedule moes inderhaas aangepas word.