Nog walvisse spoel op strand

Dit is die vyfde voorval binne 10 dae in Nieu-Seeland dat walvisse op die strand uitspoel en deur die owerheid begrawe moet word.

Wetenskaplikes sê die voorvalle kan nie aan mekaar verbind word nie en reken ’n verskeidenheid van oorsake is verantwoordelik vir die vreemde verskynsel.

Die jongste voorval het nog 51 walvisse op die eiland se strand uitgespoel, en die gemeenskap het die see in gestorm om talle diere te help deur te voorkom dat hulle ook op die strand beland..

Die loods walvisse, wat ’n soort dolfyn is, het die afgelope dae op die strande van die eiland uitgespoel tot groot ontsteltenis van die inwoners, en swaar masjiene moes inderhaas gestuur word om grond te verskuif sodat die karkasse begrawe kan word.

Die eerste klomp wat uitgespoel het, en oor ’n wye afstand gelê het, was sowat 90 in getal, en daarna het nog kleiner skole uitgespoel.

Die mense, tesame met werkers van die Departement kon egter daarin slaag om sowat 40 diere te laat weg beweeg van die kus en terug te keer na die diepsee.

Die vreemde verskynsel is egter nie onbekend aan die mense van Nieu-Seeland nie, en die grootste geval van walvisse wat op die strande uitspoel, is in 1918 aangemeld toe meer as ’n duisend diere op die strand gelê het.