Hewige aardbewing tref Alaska

Alhoewel die Amerikaanse deelstaat Alaska gewoond is aan aardbewings wat dikwels voorkom, het die afgelope naweek se skudding wat 7,0 op die Richterskaal geregistreer het, tot groot ontwrigting gelei.

Di skudding was so hewig dat vrees ontstaan het vir ’n tsoenami wat kon volg, maar die owerheid het later kennis gegee dat die gevaar verby is.

Die skudding het erge ontwrigting veroorsaak toe dele van ’n snelweg ingesak het en voertuie op die snelweg gelaat moes word.

Mense het uit geboue gevlug, ruite het gebreek en winkelrakke het omgekantel met voorraad terwyl waarskuwings alarms geloei het.

Van die naskokke, wat verdere paniek veroorsaak het, het op die Richterskaal 5,8 geregistreer.

Die middelpunt van die skudding was sowat 13 kilometer ten noorde van Anchorage, maar geen ongevalle is aangemeld nie alhoewel baie sakede aan geboue en eiendom aangerig is.

Alaska kry jaarliks sowat 40,000 skuddings, wat meer is as in enige ander Amerikaanse deelstaat, maar dit is nie van so ’n hewige aard saas wat die naweek ondervind is nie.