2019: Die Boere Afrikaner en die nuwe Suid Afrika

Ruim 180 jaar na die Slag van Bloedrivier staan die Boere Afrikaner volk voor een van sy grootste uitdagings.  ‘n Kommunistiese regering gaan in hierdie jaar uitvoering gee aan hul Nasionale Demokratiese Revolusie grondslae waarvan eiendomsreg een van die belangrikste punte is.  Voorgestelde wetgewing is vir kommentaar gepubliseer en sal in 2019 deur die parlement en die president goedgekeur word.

Dit beteken dat geen inwoner van Suid Afrika met sekerheid sal kan sê dat sy grond en sy eiendom syne is nie. Grond diefstal, of te wel onteiening van grond sonder vergoeding, is hier om te bly.  Met ‘n algemene verkiesing in 2019 het al drie groot politieke partye nl. die ANC, die EFF en die DA aangetoon dat die verlede se ongeregtighede aangespreek gaan word deur te vat van die wat het en dit te gee vir die agtergeblewenes of minder bevoorregtes.

Die massas sal met niks minder tevrede wees nie aangesien Cyril Ramaphosa, Julius Malema, Mmusi Maimane en Andile Mngxitama dit duidelik gestel het dat grond nou verdeel moet word ten gunste van die swart meerderheid.

Gaan ons as volk finaal ten gronde gaan in hierdie georkestreerde pogings teen ons of gaan daar êrens ‘n herlewing kom onder volksgenote om weerstand te bied teen die aanslag?  Gaan die volk maar steeds geduldig, gedienstig, gedwee onder die juk staan en uiteindelik tot niet gaan?

Gaan daar diegene wees wat stembus tot gaan stap en gaan stem vir ‘n party wat binne die Godlose stelsel sit en wat maar sit en kyk hoedat selfs godsdiens uit skole verban word.?  As ‘n persoon gaan stem  in die algemene verkiesing in 2019  moet hy/sy besef dat hy/sy hom/haarself aan die uitslag van die stemming onderwerp.  Dan moet daar berus word met hoe die land daarna regeer gaan word.  Dan kan daar nie meer stemme opgaan wat kla oor korrupsie, moord en swart ekonomiese bemagtiging nie.   Dan moet so ‘n persoon homself neerlê by die demokratiese stelsel van die “land”.

Kom ons vergeet van hoë petrolpryse, stygende lewenskoste, aard verwarming, besoedeling en wat nog en konsentreer op self behoud te midde van die aanslae teen ons as volk.  Kom ons keer ons rug op die vyand van ons volk en kom ons staan op om getel te word – nie met sosiale media stemming nie maar deur daadwerklik betrokke te raak en te registreer as ‘n kieser by die VVK (www.vvk.co.za) en aan ‘n eie volkstemming deel te neem.

Gert Pretorius