Motor rubriek – Jaguar E-Pace P300 HSE

Wanneer daar aan Jaguar gedink word gaan ons ouer motor entoesiaste se gedagtes onwillekeurig terug na die dae van die E-Type, Merk 10 ensovoorts en wanneer daar ‘n vergelyking getref word tussen die ouer garde Jaguar en deesdae se Jaguar, dan is daar ‘n groot verskil. Die basiese motor is nog dieselfde maar daar hou dit op.

Die Jaguar E-Pace is ‘n motor van formaat en siende dat dit ‘n sportnuts voertuig is, maak dit nog soveel te meer uniek. Daar was eintlik nie verwag dat Jaguar hulle in hierdie mark sal begewe nie maar die sukses wat daarmee behaal word is ‘n duidelike teken dat die besluit wat geneem was in die verband, was die regte besluit. Dit word wel op die staal D8 onderstel gemonteer wat dit so effe aan die gewigtige kant maak maar dit het tot gevolg dat die padgedrag van hoogstaande gehalte is. Die D8 onderstel gaan terug na die dae van die Freelander 2 en dit word gedeel met die Range Rover Evoque en Discovery Sport. Die R-Dynamic en die HSE spesifikasie toerusting wat gepas is maak deel uit daarvan dat dit swaar is. Die gewig daarvan is meer as 1900 kg.

Die bestuurs posisie is aan die hoë kant maar dit het die voordeel dat die sig na buite onbelemmer is en hierdie is dus die ideale voertuig vir ‘n natuur leifhebber wat gereeld byvoorbeeld die wildtuin wil besoek. Die voorste sitplekke en die sitplekke vir die passasiers is “sitkamer” gerieflik en ‘n mens se liggaam kry die nodige ondersteuning waar nodig. Daar is genoeg plek tussen die voor en agter sitplek vir die passasiers se bene en wanneer daar na die bagasie ruim gekyk word is daar genoeg pak plek vir al die bagasie wat saam gevat word wanneer op reis.

Of die voertuig op die oop pad of stad/dorp gebruik word, die ry gerief is van hoogstaande gehalte. Al die nodige en nog meer toerusting is gepas en binne maklike bereik. Die spoed meter en toereteller is reg voor die bestuurder gemonteer en duidelik leesbaar deur die boonste gedeelte van die stuurwiel. Al die nodige toerusting wat gebruik moet word is binne maklike bereikbare afstand en in die middelste gedeelte van die instrument paneel gepas – dit sluit die aanraakskerm in wat gebruik kan word.

Die kragbron is ‘n vier silinder, inlyn petrol enjin van 1998 kub. sentimeter en dit staan bekend as die Ingenium enjin waarop ‘n turbo aanjaer met tussen koeler gemonteer is. Die maksimum krag is 221 kW en die wringkrag is 400 Nm tussen 1500 en 4000 o.p.m. Die krag word na al vier die wiele oorgedra deurmiddel van ‘n 9 spoed outomatiese ratkas en die rat oorskakeling vind seepglad plaas.

Vir die remme word daar gebruik gemaak van ‘n ABS remstelsel met EBD en EBA rem ondersteuning en die voorste remskywe is 350 mm geventileerde remskywe op die voorwiele en 300 mm soliede remskywe op die agterwiele. Die bande wat gebruik word is Pirelli P zero en die grootte daarvan is 245/45 R20 en dit is op allooi wiel vellings gepas.

Op die sierrooster is die bekende Jaguar embleem in die middel gemonteer en regs onder

verskyn die R-DYNAMIC kenteken. Die kolligte is in die onderste gedeelte van die stamper gemonteer met luginlate om die remme te verkoel, regvoor die voorwiele. Die kant spieëls is dieselfde kleur as die bak werk met ‘n chroom afwerking strook om die vensters. Wanneer ‘n mens agter om die voertuig beweeg is die eerste wat ‘n mens opmerk die agterligte wat om die hoek van die bakwerk vou en die twee uitlaat pype wat onder die voertuig uitsteek.

Na verneem word is die versnelling van 0 tot 100 km/u 7,49 sekondes en die top snelheid 243 km/u. Mens kan aanvaar dat sou die voertuig ligter wees, daar moontlik ‘n aansienlike verskil gewees het in die syfers.

Hierdie is ‘n voertuig om te geniet en veral op die snelweg kom dit tot sy ware waarde.

Indien u in die mark is vir ‘n sportnuts voertuig, kan u dit gerus op u inkopielys plaas en dit vir ‘n toetsrit neem.