Weste woedend oor Russiese kuber aanvalle

Die Westerse wêreldleiers het in ’n koor van protes die vinger na Rusland gewys nadat die Nederlandse Ministerie van Verdediging die Russiese Militêre Intelligensie Diens betrap het dat hulle besig was met georganiseerde kuberaanvalle.

Die ministerie beweer dat ’n georganiseerde aanval deur kuberkrakers beplan is op die Organisasie vir Voorkoming van Chemiese Wapens in Nederland.

Vier agente se persoonlike besonderhede is deur die Minister van Verdediging, Ank Bijleveld, wêreldkundig gemaak nadat hulle “op heterdaad” betrap is.

Die vier oortreders se gevorderde tegnologiese toerusting is gekonfiskeer en die Russiese ambassadeur in Nederland is ingeroep om ‘n verduideliking te gee.

Nederland het daarna begin met ondersoeke na die chemiese wapens aanvalle op burgerlikes in Sirië, asook die aanval op ’n oud spioen en sy dogter in Brittanje.

Foto’s van die gesofistikeerde toerusting wat in die spioene se voertuig was, is ook aan die media beskikbaar gestel om enige ontkennings wat Rusland mag oorweeg, te kortwiek.

Politieke leiers regoor die Westerse wêreld het die optrede van Nederland geloof en hulle ontevredenheid met die optrede van Rusland te kenne gegee.

’n Skootrekenaar wat deel van die spioene se toerusting is, het getoon hoe daar ook in ander gebiede spioenasiewerk gedoen is.

Verskeie politieke leiers het gesê die spioene wat betrap is, toon dat Rusland oor ’n lang tyd bedrywig is om in te meng en te spioeneer op Westerse lande, en die Russiese president, Vladimir Poetin se ontkennings net nie geglo kan word nie.