VSA soek nuwe handelsooreenkoms

Die Amerikaanse regering van president Donald Trump wil ’n nuwe handelsooreenkoms sluit met Japan, die Europese Unie, en die Verenigde Koninkryk.

Die nuwe wending het bekend geword nadat die VSA se handelsverteenwoordiger, Robert Lighthizer, in gesprek was met verslaggewers van die media wat plaasgevind het in die Wit Huis.

Woordvoerders van die Trump-administrasie het die Amerikaanse Kongres verwittig dat afsonderlike handelsooreenkomste met die Britte, Europa en Japan beoog word.

In die verklaring word gemeld dat die ooreenkomste daarop gemik is om tot voordeel van Amerika se werkers, landbouers, en sakelui sal wees.

Die nuwe rigting kom kort nadat die VSA ’n nuwe ooreenkoms met Kanada en Meksiko aangegaan het ten einde te verseker dat dit groter voordele inhou vir die VSA en sy mense.

President Donald Trump het vroeër ernstige besware gehad oor die handelsooreenkomste wat aangegaan is met ander lande ten koste van die VSA, en het een na die ander ooreenkoms gekanselleer of daaruit onttrek met die bedoeling om later ooreenkomste aan te gaan wat meer voordelig is vir die land.

Dit is merkwaardig dat die president met Westerse lande nuwe ooreenkomste aangaan terwyl Sjina geheel en al buite rekening gelaat word, sê politieke waarnemers.

Foto –  Robert Lighthizer