VSA: Kavanaugh aanstelling goedgekeur

Enkele dae voor die Amerikaanse Senaat die aanstelling van regter Brett Kavanaugh oorweeg het, het ’n paar honderd vroue in Washington betoog teen sy aanstelling.

Brett Kavanaugh is deur president Donald Trump voorgestel as nuwe regter in die Federale Hooggeregshof van die VSA, waarna ’n oud skolier, dr. Ford, hom beskuldig het van seksuele aanranding tydens hulle skooljare.

Dit het daartoe gelei dat Kavanaugh vir ’n sewende keer in sy loopbaan deur die Amerikaanse FBI ondersoek is, maar kon, soos in al die vorige ondersoeke,  geen beskuldigings teen hom bevestig kry as die waarheid nie.

Alhoewel die FBI slegs ’n week tyd gegun is om die ondersoek te doen, het die linkse Demokratiese Party gesê te min tyd is toegelaat vir die ondersoek, maar die FBI se ondersoek is twee dae vroeër as wat verwag is afgehandel.

’n Woordvoerder van die Republikeine het later gesê die klaer, dr. Christin Ford, se beskuldigings kom verdag voor aangesien sy nie kon sê wanneer, of waar, die aanranding plaasgevind het nie.

Meningsvormers is van oordeel dat dit moontlik is dat die klaer deur die Demokrate “geplant” is om die beskuldigings te maak in ’n poging om die Republikeinse ondersteuner, regter Kavanaugh, uit die pos te hou.

Die Senaat wat deur ’n meerderheid Republikeine beheer word, het in die eerste rondte met 51 stemme teen 49 ten gunste van regter Kavanaugh gestem.

In die tweede stemming wat Saterdag gehou is het die Republikeine die stemming gemaklik gewen met Demokrate wat ook ten gunste van die regter se aanstelling gestem het, en was die uitslag 50 stemme ten gunste van die regter en 48 daarteen.

Kort na die afloop van die stemming, terwyl ’n klompie vroue voor die senaat gebou betoog het, het regter Brett Kavanaugh die eed afgelê in die Amerikaanse Hooggeregshof.

Een Demokratiese senator het ook haar stem ten gunste van die regter uitgebring en een senator was afwesig tydens die stemming.

Kenners wys daarop dat regters in die VSA se aanstelling lewenslank geld, wat beteken dat die jarelange oorheersing van regters wat die Demokrate steun, nou vir dekades lank omgekeer is aangesien Kavanaugh se aanstelling die Republikeine in ’n meerderheid plaas in die Hooggeregshof.

Foto – Regter Kavanaugh en gesin by sy eed aflegging