Volk kom tot stilstand

Saterdag, 6 Oktober 2018 het die volk vir ’n wyle tot stilstand gekom. Vir net meer as 90 minute was almal vasgenael voor die een-oog-god om te kyk na die sport-god rugby. Vergete al die week se probleme en negatiwiteit, want vandag is dit sonskyn, braaivleis en chevrolet. Vir 90 minute is daar geskree, gedrink, aangemoedig en selfs gevloek as daar foute begaan is en verkeerde besluite geneem is.

Daarna – ’n volk in rou – want die Amabokke het verloor. Die ras vermengde , getransformeerde reënboog span, wat verteenwoordigend is van die land se multikulturele samestelling, het nie voldoen aan die verwagtinge nie.

Sondag, 7 Oktober 2018 – dieselfde duisende wat so vasgenael was voor die TV is moeg gekuier, gedrink en geraas en nou moet daar gerus word want ’n week lê voor.

’n Week van swoeg en sweet by die werk, en daar is dalk nog tyd om inkopies te gaan doen, maar ai, vandag sien ek nie kans vir 60 minute se kerk nie.

Dalk sal ek die kinders gaan aflaai by die kategese of dalk kan hulle maar ook rus vandag, want môre is dit weer skool en al die leer werk.

Kan die Boere-Afrikanervolk hom nog enigsins daarop beroep dat dit ’n Christelike volk is? Vergete toe die droogte daar was en ons almal gebid het vir reën, vergete toe ek my probleme in gebed opgedra het aan die Almagtige God.

Ons is soos die wederstrewige volk van die Ou Testament want ons hoereer agter die valse afgode aan. Ons aanbid hul nie knielend nie, maar ons is soos verslaafdes wat nie weg kan kom van die aardse genietinge en versoekinge nie. Wanneer gaan ons ons inkeer en wend tot die God wat Hemel en aarde geskape het en Hom vra om ons te verlos van ons sondes en ons weer vry te maak in hierdie land?

Is dit te veel gevra?

VDM