Twee vragskepe in botsing

’n Tunisiese vragskip en een van Ciprus het in die Middellandse See gebots en die see oor ’n oppervlakte van meer as 4 kilometer besoedel.

Italië en Frankryk moes inderhaas skepe na die ongelukstoneel stuur om behulpsaam te wees met die opruiming van die besoedeling.

Die botsing het Sondag naby die kus van die eiland Corsica plaasgevind wat ’n lek van olie of brandstof veroorsaak het.

Klaarblyklik het die vragskip van Tunisië in die ander een vasgevaar, en alhoewel die skepe beskadig is, kon beide verder beweeg tot waar hulle vir herstelwerk kon aandoen.

Geen bemanning is beseer nie, en die kaptein van die CLS Virginia het later gesê die vragskip het ’n groot skeur op die sykant opgedoen wat spoedige herstel vereis.

Ondersoek word gedoen na die ongeluk, en daar is gesê die besoedeling is afkomstig uit een van die skep se een brandstoftenk.

Die Tunisiese vragskip wat teen die ander skip vasgery het, se spoed was te hoog om betyds te voorkom dat ’n botsing plaasvind, en die verwagting is dat die ongeluk nog tot ’n hofgeding kan lei.