Sjina kap na VSA se Mike Pence

Beijing het die beskuldigings van die amerikaanse Adjunkpresident, Mike Pence, verwerp wat daarop neerkom dat Sjina daaraan werk om president Donald Trump te ondermyn.

Die adjunkpresident het gesê die Sjinese poog om die Amerikaanse kiesers te beïnvloed om teen president Trump te draai, maar die Sjinese ontken enige betrokkenheid in die verband.

Beijing het in reaksie gesê Washington moet ophou om ongegronde beskuldigings teen Sjina te maak omdat hulle nou ’n nuwe fase van verkiesings binnegaan in Amerika.

Sjina se minister van buitelandse sake het die naweek gesê die beskuldigings is niks anders as onbewysbare goed wat uit die lug gegryp is nie.

’n Woordvoerder van die Sjinese minister het later bygevoeg dat Sjina geen belang het in die verkiesings wat in die VSA gehou word nie.

Die woordewisseling tussen die twee state het die spanning wat ontstaan het sedert die instelling van invoer heffings,  nog verder verhoog en bestaan die vermoede dat die gesindheid tussen die twee lande nie gou sal verbeter nie.