Plaasmoordenaars gou vasgetrek

Die vinnige optrede van ʼn oplettende amptenaar by ʼn weegbrug naby Heidelberg, Gauteng, wat persone gesien het wat verdag optree, het waarskynlik bygedra tot die inhegtenisneming van twee mans wat betrokke was by die moord van ʼn plaasboer in die omgewing.

Dit was nadat ʼn bejaarde man Woensdagoggend vroeg in sy huis in Houtpoort buite Heidelberg oorval en doodgeskiet is.

ʼn Bende van vermoedelik vyf persone het omstreeks middernag by die huis ingebreek, die man in die bors gewond en met sy motor en huishoudelike goedere gevlug.

Die vinnige optrede van die amptenaar en polisie het daartoe gelei dat twee verdagtes enkele ure later in Ratanda aangekeer is. Vuurwapens, en van die goedere wat tydens die aanval en moord op die boer geroof is, is in hul besit gevind.

Mev. Mari Boshoff, VF Plus-raadslid in die Lesedi-plaaslike munisipaliteit (Heidelberg), sê dit is jammer dat die veiligheid van veral plaasboere so laag op die prioriteitslys van die ANC-regering is en die VF Plus doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om als in hul vermoë te doen om hulself en hul eiendom te beskerm.

“Die VF Plus wil in hierdie geval ook sy dank uitspreek teenoor die amptenaar en die polisie vir hul vinnige optrede na die aanval.”