Motorrubriek – Fiat Panda Cross 4×4

Die Fiat Panda was sedert die eerste bekendstelling, klein van formaat maar “groot” wanneer dit by werkverrigting kom. Die heel nuutste Cross trek dadelik die aandag waar dit ookal mag beweeg en is eintlik ‘n veelsydige sportnuts voertuig.

Dit is wel nie ‘n “hardebaard” 4×4 nie maar dit doen die werk. Inteendeel die 875 kub. sentimeter, twee silinder, turbo aangejaagde, petrol enjin verrig ‘n reuse taak. ‘n Twee silinder klink so niks beduidend maar in hierdie geval is daar 66 kW teen 5500 o.p.m. beskikbaar en die wringkrag is 145 Nm beskikbaar vanaf 1900 o.p.m. Dit is gekoppel aan ‘n ses spoed handratkas en daar het jy ‘n “mossie maar man” want die allewielaandrywing sorg daarvoor dat die werk met min moeite gedoen word. Volgens die vervaardiger kan dit ‘n skuinste van 70 grade baasraak. Dit het ‘n waaddiepte van 711 mm en verlyk baie goed met sy mede dingers in hierdie gebied. ‘n Verdere voordeel is dat dit baie lig is. Dit trek die skaal op 1090 kg en dit het so effe van ‘n neiging om so bietjie los grond en klippe op te skop wanneer daar oor ruwe terrein beweeg word.

Van buite gesien skep dit ‘n besonderse indruk met die naam “Cross” op die kant voor die agterwiele geskryf laat dit geen twyfel wat die doel van die voertuig is nie. Daar is dan ook voldoende beskerming aan die onderkant en aan die voorkant van die voertuig aangebring om dit te beskerm teen klippe.

Die kolligte aan die voorkant maak deel uit van die sierrooster met die bekende Fiat kenteken met die lourierkrans om wat in die middel van die sierrooster pryk. Aan die agterkant is die remligte hoog gemonteer en dus duidelik sigbaar vir motoriste agter die Fiat. ‘n Verdere stel ligte is aan die onderkant in die agter stamper gemonteer.

In die binnekant van die voertuig word daar gebruik gemaak van interessante toerusting met die instrumente regvoor die bestuurder gemonteer en dit kan met gemak deur die speke van die stuurwiel gelees word. Vir ‘n voertuig van hierdie aard is die sitplekke baie gemaklik en met die ry agterste sitplekke in plek is daar 225 liter pakplek in die bagasieruimte. Wanneer die sitplekke egter plat gevou word vermeerder dit na 870 liter.

Die brandstofhouer neem 37 liter en volgens die vervaardiger is die brandstofverbuik 5l/100 km.

Hierdie is die ideale voertuig vir natuurlifhebbers maar is ook ideaal as ‘n tweede voertuig. Indien u dus in die mark is vir so ‘n voertuig, kan u dit gerus op ‘u inkopielys plaas en dit vir ‘n toetsrit gaan neem.