Mboweni nuwe minister van finansies

‘n Voormalige hoof van die Reserwebank, Tito Mboweni (foto),  is deur Cyril Ramaphosa aangestel as die minister van finansies nadat Nhlanhla Nene gevra het om losgemaak te word van sy pos. Ramaphosa het Nene se bedanking aanvaar.

Mboweni is die vyfde minister van finansies in minder as drie jaar, wat beteken dat dié departement ernstig ly as gevolg van die gebrek aan kontinuïteit.

Linkse media en sommige ekonome probeer weer eens hulle bes om dit te beskryf as ‘n goeie daad wat Ramaphosa gedoen het en dat die graderingsagentskappe daarom geen verdere afgradering sal doen nie. Ander ekonome is nie meer realisties en nie so optimisties nie.

Dr. Pieter Groenewald van VF Plus sê Nene se vervanging moet nou die riglyn wees vir optrede teen ander regeringsamptenare wat by staatskaping geïmpliseer word.  “Nene het nou die voorbeeld gestel om uit eie oorweging te bedank nadat sy bande met die Guptas aan die lig gekom het, en pres. Ramaphosa het korrek opgetree om sy bedanking te aanvaar.

“Dieselfde optrede moet nou geld vir enige ander minister wat betrokke was by staatskaping en die Gutpas. Dit is die enigste manier waarop die president werklik integriteit en vertroue in die regering sal herstel,” sê dr. Groenewald.