Interpol hoof bedank onverwags

Die vreemde optrede van die Sjinese owerheid asook die skielike bedanking van die Sjinees, Meng Hongwei, as president van Interpol, laat vrae ontstaan oor die rol wat deur Sjina gespeel word.

Interpol het Maandag die bedanking van die president, Meng Hongwei, ontvang nadat hy in Sjina vermis geraak het en “Die Vryburger” kon vasstel dat hy deur die Sjinese owerheid aangehou word vir “ondervraging”.

Die woordvoerder van die Sjinese waghond sê die president van Interpol word ondersoek weens beweerde oortreding van Sjinese wette.

Waarnemers vermoed dat die Interpol president se werk as Sjinese kommunis nie so onskuldig is nie en waarskynlik deur die Sjinese owerheid gebruik is om “verpligte” spioenasiewerk te doen terwyl hy in Europa gewerk het.

Die feit dat hy deur Sjinese sekuriteit personeel aangehou word en aan ’n intensiewe ondersoek onderwerp is, laat talle vrae onbeantwoord.

Die Sjinese owerheid het later gesê Meng Hongwei word ondersoek vir sy moontlike betrokkenheid by omkopery, maar sy eggenote het te kenne gegee dat sy nou vrees vir sy lewe.

Meningsvormers glo dat die Interpol president nie sy Sjinese regering se opdragte uitgevoer het nie, en gedwing is om te bedank.

Die geheimsinnige gebeure sal waarskynlik nie opgeklaar word nie aangesien die kommuniste nie huiwer om mense swaar te straf as hulle die regering teenstaan nie.

Foto – Meng Hongwei